Storytelling.co.za in die nuus! (from Beeld Newspaper 23-April, 2008 in Afrikaans)

http://www.news24.com/Beeld/Vroue/0,,3-1841_2311191,00.html

Reis na ’n land ver, ver van hier . . .

Eendag lank, lank gelede was daar 'n storie wat om die kampvuur vertel is. Soveel mense het die storie oorvertel dat dit sterk geword en ontsnap het. Vandag word dit in raadsale en kantore, teaters en huise vertel. Marzanne van den Berg het gaan luister.

‘Het jy gehoor?”

Vra dít en skielik het jy almal se aandag. En het jy al agtergekom mense onthou ’n storie baie beter as ’n voorlegging in puntformaat?

Almal is lief vir stories – om dit te hoor en te vertel.

“Een keer ’n maand kom ons storievertelkring bymekaar,” vertel me. Elizabeth Jansen van Vuuren van die Johannesburg-storievertelkring.

“Elkeen moet ’n gereg en ’n storie bring. En dit raak al hoe gewilder, elke keer is daar meer mense.”

“Alles wat ons oor onsself en die wêreld weet, leer ons óf deur persoonlike ervaring óf deur stories, en meestal deur stories,” sê mnr. Steve Banhegyi, ’n fasiliteerder, konsultant en skrywer wat spesialiseer in persoonlike en organisatoriese veranderingsbestuur.

“Stories is die enigste manier wat mense het om sin te maak uit die wêreld. Dit is een van die dinge wat ons menslik maak,” sê hy.

“Stories maak dat ons op sekere maniere reageer, soos om hartseer of gelukkig te wees of selfs om te emigreer.”

Stories skep identiteit en waardes

Stories voed mense, en veral kinders, op en ’n mens leer morele waardes deur stories, sê me. Khosi Mazibuko, direkteur van Zanendaba Storytellers in Johannesburg.

“Stories is ’n goeie manier om boodskappe en inligting oor te dra. Ons spreek maatskaplike kwessies soos dwelmmisbruik deur stories aan en vertel dikwels stories om mense meer bewus te maak van MIV/vigs.”

Sy sê hulle het onlangs die werkers van die Johannesburgse padagentskap deur stories geleer hoe die MI-virus oorgedra word.

“Die inligting word makliker ingeneem in ’n storie.”

Mazibuko sê storievertel raak al hoe gewilder.

“Ons vertel stories by verjaardagpartytjies, ook vir volwassenes. Ons skryf ook stories om produkte te bevorder, en vertel dit dan byvoorbeeld op radio.”

Die regisseur Janice Honeyman meen weer die kuns van storievertel is besig om te verdwyn weens rekenaars en televisie.

“Stories word op televisie vervlak vir algemene verbruik. Kinders en volwassenes gebruik nie meer hul verbale vaardighede soveel as voorheen nie,” sê Honeyman. “Mense het nie meer die geduld om te sit en ’n storie te vertel nie. En ons behoort dit net meer en meer te doen!”

Honeyman sê kinders kan deur stories hul vrese en fantasieë in die veilige hawe van hul huis of ’n donker teater konfronteer.

“Stories help Suid-Afrikaners om ’n gemeenskaplike identiteit te vind ná ons land se verdeelde verlede.”

Honeyman vertel die toneelstuk Shirley, goodness and mercy, wat sy geregisseer het, gaan oor ’n bruin familie, “maar toe ek dit lees, sien ek daar is soveel dinge wat dieselfde was in my kinderjare”.

“Só bevestbanig stories dat ons ’n gemeenskaplike identiteit het en dat ons dieselfde is.”

Stories by die werk

In organisasies word daar altyd stories vertel en dikwels is daardie stories negatief met negatiewe gevolge, sê Banhegyi. Hy en sy vennote help organisasies om stories tot hul voordeel in te span. “Stories is nooit die waarheid nie, dit is altyd konstruksies, maar as dit dikwels genoeg herhaal word, word dit as die waarheid aanvaar,” sê hy.

“Ons vind uit watter stories vertel word – hoe mense oor hulself praat met betrekking tot die organisasie – en of dit deur alternatiewe stories vervang kan word.”

Elke organisasie behoort ’n groot storie (grand narrative) te hê. Dit is die waarmerk van enige suksesvolle organisasie, sê Banhegyi. Dit is ’n storie oor waar die organisasie vandaan kom, waar dit tans is en waarheen dit op pad is.

Alle stories, dié wat in jou organisasie vertel word en dié wat oor jou as individu gaan, moet jou help om te kry wat jy wil hê, sê hy.

Storieterapie

Mense maak sin van hul lewe deur die stories van hul lewe te vertel, sê dr. Dirk Kotzé, direkteur van die instituut vir terapeutiese ontwikkeling in Pretoria.

In die storie van jou lewe is daar ’n oorheersende tema, tendens of storielyn, sê hy. In narratiewe terapie is die doel om iemand se fokus te verskuif van ’n probleemversadigde, oorheersende storie na ’n alternatiewe storie.

“As iemand vir ’n terapeut van sy probleem vertel, gaan die oorheersende storielyn waarmee hy of sy leef, na vore kom en die terapeut kan vrae vra om die probleem te struktureer.

“Die groot vraag in terapie is egter wat die ander storie is – dit wat gebeur het en nie vertel word nie.”

Kotzé vertel as voorbeeld die storie van ’n depressiewe vrou wat met die idee geleef het dat sy niks werd is nie en niks kan regkry nie. Dit is deur verskeie gebeurtenisse versterk.

Haar ouers het haar as kind baie gekritiseer en haar soms in ’n donker badkamer toegesluit. In terapie het sy skaam vir hom gesê dat sy dit nog nooit vir iemand vertel het nie, maar sy het altyd voordat hulle haar in die badkamer toegesluit het, skelm haar teddiebeer uit die kamer gaan haal en in die badkamer weggesteek. Nadat sy uitgelaat is, het sy weer die beer uit die badkamer gesmokkel en teruggeneem kamer toe.

“Ons het deur terapie hierdie alternatiewe storie ryker en dikker gemaak sodat dit ’n volledige storie geword het.

“Ek het haar byvoorbeeld gevra hoe sy die beer gaan haal en weggesteek het. Die gevolgtrekking wat die vrou uit die alternatiewe storie gemaak het, was dat sy nogal kreatief kan wees. Die terapeut moenie die gevolgtrekking afdwing nie, die pasiënt moet dit self bereik.

“Dan soek ’n mens nog stories om die gevolgtrekking te bevestig en gewoonlik kom daar meer goeie karaktertrekke uit hierdie stories na vore.”

Die alternatiewe storie is reeds verskuil in die probleemstorie, maar word nie altyd raakgesien nie, sê Kotzé. Hy sê mense moet bereid wees om nuuskierig te wees oor ander se stories. “Gee iemand kans om sy storie te vertel. Luister, voordat jy net wil begin oplossings soek. Dikwels sorteer ’n mens ’n probleem vir jouself uit deur die storie te vertel.”

Meer oor stories

  • Besoek www.storytelling.co.za vir stories en ook stories in organisasies.
  • Besoek www.zanendaba.org vir die Zanendaba Storytellers.
  • Die instituut vir terapeutiese ontwikkeling lewer terapeutiese dienste en lei beraders op.